Liewe LIGweerkaatsers, water is darem maar kosbaar en wanneer die son so warm brand sien ons hoe ons waterbakke en fonteine hier by die kerk al hoe leër raak soos dit verdamp. Dit laat my net weer besef dat water nie altyd bly waar dit is nie – dit moet opgevul word. In die gewone samelewing is dit vir party maklik – maak net ‘n kraan oop. Vir ander moet hulle ver stap en swaar dra om weer water aan te vul. Ek vermoed dit is so ook met ons geloof en ons verhouding met God. Ons kan sukkel, swaar dra, ver loop en jou voete seermaak om water te kry op ons eie paaie. Of, of ons kan gaan stilword, rustig raak, die Woord oopmaak en praat met ons Vader. En dan draai HY die kraan oop en vul ons weer tot oorlopens toe vol. Dis die wonder van ons Omgee-God!

Hierdie Sondagoggend nooi ons u almal uit om saam verder te gesels oor water. Ons stop by ‘n put, en luister na ‘n gesprek tussen ‘n man en vrou. U is almal baie welkom om in te luister.

Sondagaand is ons tieners en die aanddiens weer volstoom met “praise & worship”. Doen uself die guns en kom woon een aand by, u sal verstom, opgewonde en dankbaar staan oor die vreugde waarmee ons jongmense die Here dien.

Mag u elkeen tyd maak om by Vader se kraan te gaan drink hierdie komende naweek en week.

Sien julle Sondag!

Kliek hier om die Hartklop af te laai (2.3Mb)