Liewe LIGweerkaatsers, volgende week begin ons met die Lydensweke en dit is dan asof ons net so bietjie kan briek aandraai, stilword en ‘n tyd van refleksie kan ingaan. Ek sien altyd uit na hierdie tyd, aangesien ons almal so woes wegtrek elke jaar! Mag u almal moeite doen hierdie jaar met die Lydensweke en daardeur die wonder van Jesus, ons Verlosser, net weer van vooraf ontdek.

Hierdie week ontplof die Hartklop net weer met geleenthede en Godstories – sjoe! Dit is waarlik ‘n riem onder die hart hoe mense vorentoe kom en sê: “Ek sal!” Alle eer aan God. Lees gerus ook van al die Lydenstyd simboliek en gebruike. Ons het ook ‘n skriftelike terugvoer oor ons gemeente se finansies (na verlede Sondag se mondelinge terugvoer) en lees die Program vir die week baie mooi deur sodat u niks van al die heerlike geleenthede misloop nie.

Ons heg ook ‘n nuwe maandelikse Gebedskalender aan. Bêre dit gerus in u Bybel en bid die hele maand saam met ons!

Sondagoggend nooi Wilhelm u almal uit om saam te gesels oor veranderinge en of mens regtig kan verander. Ek vermoed dit is ‘n vraag waarmee heelwat van ons al geworstel het.

Sondagaand is dit ons jongmense se beurt en die Belydenisaflegging. U is almal baie welkom om hierdie baie Spesiale geleentheid saam te kom vier.

Mag u elkeen hierdie komende naweek en week tyd maak om stil te word by ‘n kruis, met die Woord in u hande, by ‘n waterstroom. Mag u die stem van u Vader duidelik hoor, asook SY trooswoorde.

Sien julle Sondag!

Kliek hier om die Hartklop af te laai

Gebedskalender vir Maart 2019