11 Julie 2021
www.ngkonrusrivier.co.za
info@ngkonrusrivier.co.za
/ngonrus
Hierdie week se fokus op die gebed van Petrus,
Johannes en hulle medegelowiges in Handelinge 4
het my laat dink aan `n uitstappie waarop ek in 2004
was. Ek en `n paar vriende het saam met my ouers en
`n vriend van my pa `n massiewe pretpark gaan
besoek... en WOW! Wat `n ervaring was dit nie! Al
die ritte waarop ons gegaan het was natuurlik ook
groot pret, maar ek kan geen spesieke rit onthou
nie.
Wat ek wel kan onthou, die ding waaraan die gebed
in Handelinge 4 my laat dink het, is iets wat gebeur
het net toe ons deur die hekke van die pretpark
geloop het. Met ons aankoms het ons `n moeder
histeries hoor huil en skree sy het sopas
agtegekom dat haar klein dogtertjie weg is en die
skok het haar laat vries op die plek waar sy gestaan
het.
Ons almal was oorweldig en het nie juis geweet waar
om te kyk of waarheen om te stap nie: Hoe kan ons
nou net aangaan en `n adrenalien-gedrewe dag hê,
terwyl hierdie vrou se lewe nounet in duie gestort
het?
Ek en `n goeie vriend van my het toe besluit om
agter die res weg te kruip en te wag tot die
‘’grootmense’’ vir ons sê wat om te doen. Ek kan dit
nog só goed onthou - almal se gemoedstoestand het
drasties verander met die aanhoor van haar
noodkreet.
My pa se vriend sê toe, terwyl ons nie juis weet wat
om te doen of waar om te kyk nie, ‘’let us pray’’ en
net daar het ons `n kringetjie rondom die vrou
gemaak en vir haar gebid.
Daai oomblik dien nou nog as `n roetemerker in my
lewe... nie die inisiatief om te bid nie, nie die feit dat
ons in die middel van die hoofstroom verkeer `n
kringetjie gemaak het nie, maar die gebed self. Ek
kan nie die woorde onthou nie, maar ek kan onthou
dat dit die atmosfeer verander het – dit het my
veertienjarige hart `n hemelse vrede kom gee en toe
ek na die vrou kyk na die gebed, kon ek in haar oë
sien dat sy ook anders gelykhet as voor die gebed.
Haar lyftaal was anders, daar was hoop in haar oë en
dit het gelyk of sy op `n misterieuse manier nou
geweet het wat om te doen.
Ek weet nie hoe lank dit gevat het voor sy haar
dogtertjie gevind nie, maar ek weet dat sy die gebed
regtig baie waardeer het en dat dit baie vir haar
beteken het.
In daardie geval, nes in die geval in Handelinge 4, het
gebed die vermoë om die atmosfeer te verander. Dit
het die vermoë om jou van binne af te transformeer
om jou gerus te stel met die wete dat God
teenwoordig is en dat Hy saam met jou deur die
moeilike tye gaan beweeg; dat jy belangrik is vir
Hom. Gebed het verder ook die vermoë om jou na
buite te verander – om vir jou na dinge te laat kyk op
die manier waarop Jesus daarna sou kyk.
Sondag kyk ons na die moeilike situasie waarin
Johannes en Petrus hulself bevind het en hoe hulle
gebed gebruik het om ondanks hulle moeilike
omstandighede steeds op koers te bly!
Geseënde dag,
Anton