VOSBURG TERUGVOER

Mobirise

Die Karoo is droog. Dit reën nie. Die sprinkane is ook hierdeur, als wat groen was opgevreet. Maar tog. Diep in die droë takkies van elke bossie is 'n paar groen
blare. Daar is lewe. Ons lewens die laaste tyd was met Covid, finansiële druk en “deurmekaargeid” ook maar droog. Sprinkane van alle soorte vreet aan ons lewens,
verhoudings en mens. Maar Tog. Tog kan mens stil word hier en bewus raak van God wat altyd daar is. Mens kan samesyn beleef, lekker eet en uitstekend bedien word deur Anton. Stilword stukke in die veld. Gaan, Lees en Wees. Die seën van die reis na Vosburg sal nog lank in ons lewens wees. – Nico Roos

Mobirise


Vosburg in die droeë Karoo
Daar waar die gesuis van elektrisiteit verdwyn en jou selfoon net ‘n duur sakrekenaar is vind jy rustigheid vir jou siel. Die wêreld se dinge draai nog vir ‘n dag of wat in jou kop, maar daarna skakel die wêreld se gedruis af. Die Karoo se ritme neem oor. Sonder die stad se gejaag kon ons fokus op ons geloof en die boodskap wat deur Ds Anton gebring is. Dit was weereens ‘n ongelooflike geleentheid om myself beter te leer ken en om die ervaring te kan deel met broers in die geloof. Ds. Anton se dag-stukkies en sessies was van onskatbare waarde gedurende hierdie ontdekkings reis.
- Ben Calitz

Ons uitreik Vosburg toe was 'n positiewe ervaring. Aangesien hierdie my eerste uitreik was, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Die samesyn tussen mede gelowiges en stilword in die vlakte was 'n belewenis. In 'n gejaagde wêreld is dit belangrik om stil te word en net weer jouself te oriënteer en nuwe perspektief te kry. Ek is dankbaar vir die geleentheid om te kon saamgaan. - Johann Sprong

Dankbaar en geseënd. Twee woorde wat opgekom het die naweek. Om in Vosburg aan te kom en die droogte te aanskou, maak ‘n mens net weer bewus hoe dankbaar ons moet wees vir wat ons het en waar ons woon. Geseënd is ons om die voorreg te hê om weg te breek en die stilte te ervaar, saam met ‘n groep hartsmense. Die stiltetyd en sessies het baie na aan my dag tot dag se gebeure en besluite gegaan. Die sessies was van pas op ons daaglikse lewe. - Juan Mostert

Mobirise

Dankie vir die geleentheid dat ek weer kon saam gaan Vosrus toe. Vosrus, ja dit is hoe ons dit by die kruis geskryf het. ‘n Plek waar dit voel of die tyd stil staan… 

Ons het weereens baie vroeg uit Hermanus gery. Die pad is lank maar daar is ‘n snaakse gevoel in jou binneste. Iets wat net dié weet, wat al daar was waarvan jy praat. Ek sê dit nie om ander jaloers te maak nie. Maar hoe nader ek aan Vosrus beweeg en ek die see, berge en groen agter laat, besef ek net weer hoe bevoorreg ek/ons is. Hermanus is groen, nat en ons het ‘n oorvloed van alles. Hier is dit droog, sommer baie droog! Toe ons Vosburg binne ry en stop by die brood bakkery, kry jy sommer ‘n lekker warm gevoel. Twee redes, die eerste is natuurlik om te sien die bakkery nog aan die gang is. Onrus gemeente het hierin ‘n aandeel gehad om die droom van ‘n bakkery op die been te bring. Tweedens natuurlik die twee meisies wat daar werk is baie bly om ons te sien. Hulle het dadelik geweet wie ons is en wil net gesels. Goeie en opregte mense! Dit is nie mense wat voorgee hulle is iets wat hulle nie is nie. Ons het ook hier die mussies afgelewer wat die gemeente gestuur het. Na die bakkery is ons na Shawn se jag huis toe. Dit is nie lank uit die dorp en selfoon word af gesit. Af, want hier is nie selfoon opvangs nie. Moet sê, dit is ‘n vreemde gevoel. Geen WhatsApp boodskappe, oproepe, e-posse of Facebook nie. Net stilte! Baie stilte!

Ons sessies wat Anton bespreek het, het gevoel of hy direk met my praat. Dit was kosbaar en prakties. Ons het stiltetyd in die veld gehad. Dit was koud en baie stil. Hier is net mooi niks wat jou aandag kan aftrek nie. Geen selfoon, kliente, kinders/vrou, media of voertuie wat verby jaag nie. Maar tog sukkel ek om af te skakel en te fokus. Hoekom is dit so? Sekerlik al die “clutter” in ons lewens. By dag twee kon ek eers rustig raak. My aandag het te veel gedwaal die eerste dag. Ek is eerlik hieroor. Die tweede dag was “makliker” om te fokus. Met eens het ek die Here hoor praat met my! 

Ons het elke dag gedebrief by die kruis. Ons moes stap na die kruis. Die kruis wat ons met ons eerste jaar geplant het. Hoekom stap het van die manne gevra? Dit het eers later vir ons almal duidelik geraak. Raak rustig, stap en dink na oor wat die dag gebeur het. Gesels en bespreek dit. Alles moet nie net ‘n gejaag wees nie. By die kruis het ek mooi na die twee stukke hout gekyk. Dit was dieselfde kruis. Maar ook nie. Die kruis was droog met krake in. Dit het my toe ook laat dink aan hoe ons lewens is. Dit kos werk, werk aan jouself, gesin, familie, vriende en die Vader wat ons dien om te verhoed dat ons droog raak in ons geloof. Hierna weer die stap terug huis toe in die koue. Weereens simbolies van hoe die Here werk. Jy kan hom nie altyd sien nie. Maar jy het hom gevoel!

In die aande het ons lekker gesels en gekuier. Al wat die stilte gebreek het was die kragopwekker wat in die aand geloop het vir ligte ens. Dit was koud in Vosburg. So koud dat die water in die pype gevries het en die gas geyser nie die water kon warm maak nie. Daar is ook nie druk nie. Jy moes dans en vinnig stort, dis koud en water is skaars hier. Sondag, oppad van die plaas af kerk toe was daar op een slag die vreemdste geluide in die bus. Iets wat ons amper van vergeet het. Hordes boodskappe wat in kom op jou foon. Die stilte was verby! 

Ons was minder as 40 in die groot kerk. Ons het hom warm gesing en nagmaal geniet. Hierna is die langpad huis toe. Oppad terug was die bus stil. Dit is nie die manne se geselskap waarvoor jy “moeg” is of omdat jy jou vrou en kind mis nie. Hier het jy na gedink oor jou ervaring, jou stilte tyd en hoe gaan ek toepas wat ek geleer het? Wat gaan ek verander in my lewe, hoe gaan/kan ek ‘n verskil maak in ander se lewe. Daar was ook die dankbaarheid vir die kleinste goedjies. Goed waaraan ‘n mens nie dink nie. Goed wat jy daagliks net van selfsprekend aanvaar daar is. Warm water, warm bed, warm huis, kos op jou bord en geen droogte.

My Geestelike tenk is vol! Dankie Onrus! - Andries Schreuder

Mobirise

SELGROEP/KLEINGROEP/OMGEEGROEP/HUISKERK (OPVOLG)

Na aanleiding van my skrywe so ‘n klompie weke gelede, wil ek so bietjie terugvoer gee van wat gebeur het van toe af tot nou.

Ek wil dan met die terugvoer ook ‘n uitnodiging rig aan almal wat hulp nodig het om weer jou groep aan die gang te kry, om die vrymoedigheid te neem om my te kontak.

Mobirise

Kleingroep saam op uitstappie

Ons het toe begin met ‘n Kleingroep en ons ledetal staan tans op 7. Die terugvoer wat ek kry is dat ons saamwees as Kleingroep baie sinvol ervaar word. En dan in lyn met die oogmerk van ‘n Kleingroep (soos in my vorige skrywe verduidelik), is die saamwees nie beperk tot net 1 maal per week se saam kuier en gesels nie. ‘n Goeie vertrouens verhouding neem tyd om te vorm. Maar deur gereëlde kommunikasie en saam kuier waar ons kan, is goeie en opregte bande besig om gesmee te word en staan ons mekaar by om geestelik te groei en om Sy koninkryk uit te brei. Onderlinge ondersteuning en deel van vreugdes is ook baie prominent in ons bymekaar wees.

Afhangende van hoe die groeplede se omstandighede is, vergader ons weekliks d.m.v. MS Teams (aanlyn), fisiese (verantwoordelike) bymekaarkom of ‘n kombinasie van die 2. Dit het dus al gebeur dat almal met MS Teams ingeskakel het vir die byeenkoms. Met ander geleenthede was ons 2 gesinne wat fisies bymekaargekom het en die res van die lede het dan aanlyn ingeskakel. 

Daar was aanvanklik bietjie “groeipyne” om die tegnologie aan die gang te kry, maar dit wil voorkom asof dit elke week bietjie makliker gaan. Tydens die aanlyn bymekaarkom, sien en hoor ons mekaar deur ‘n video beeld. Tydens die groepbespreking wissel ons af tussen die materiaal wat op die skerm vertoon word en die video van al die groeplede.

 Vir die wat nie toegang het tot ‘n groter rekenaar of tablet skerm, is die gesprekstema se materiaal ook beskikbaar gestel om uitgedruk te kan word. Dit kan ‘n bietjie klein op ‘n selfoonskerm vertoon. Die selfoon kan egter werk vir die res van die ervaring.

Vir ons weeklikse byeenkomste, “behandel” ons ‘n gesprekstema en die een waarmee ons afgeskop het se naam is “Beter Saam”. Ons doen ook saam lofsang. Ek het uittreksels uitgehaal van die lofsang tydens die erediens opnames en dit speel dan tydens ons byeenkoms op elkeen se skerm (ek beheer dit van my kant af) en ons almal sing dan hartlik saam om die Here te loof. 

Die tegnologie tot ons beskikking, maak dit dus redelik toeganklik vir almal om in te skakel en deel te wees van ons byeenkoms op watter manier ook al geskik/gepas is vir die betrokke bymekaarkom. Vir die aanlyn byeenkomste, is internet toegang egter noodsaaklik.

Met bogenoemde in ag geneem, wil ek dan die uitnodiging herhaal, dat enige iemand wat sou belangstel om deel te wees van ‘n Kleingroep, om my te kontak. Afhangende van hoeveel mense belangstel, sal ons waarskynlik ‘n 2de groep begin. Met ons gesprekke met verskeie mense, kom ons ook agter dat die hele Covid pandemie ‘n demper geplaas het op verskeie groepe se bymekaarkom/funksionering. 

Hierdie groepe wissel dan van Wyksgroepe, Bybelstudie groepe, en nog vele meer. In baie van die gevalle is die “demper” wat geplaas is gelykstaande aan ‘n totale ophou van aksies en/of bymekaarkom. Ons gevoel is dat die pandemie nie noodwendig oor ‘n week of twee tot ‘n einde gaan kom nie, alhoewel dit ‘n gesprek op sy eie is. Ons wil mense dus aanmoedig om moeite te begin doen om, waar jy ook al betrokke was of ingeskakel het, die toue weer te begin optel. Om bogenoemde reg te kry, het ons paar weke se bymekaarkom bewys dat dit wel kan gebeur met die middele wat tot ons beskikking is. Ek wil dan hiermee ook ‘n uitnodiging rig aan almal wat hulp nodig het om weer jou groep aan die gang te kry, om die vrymoedigheid te neem om my te kontak. Ons kan dan saam gesels hoe die tegnologie ingespan kan word om dit reg te kry. Ek kan selfs “huisbesoek” doen om te help met die opstelling (ek het darem al intussen my inenting gekry en dit wil voorkom asof ek nog redelik normaal funksioneer). Uit die aard van die saak sal die tipe groep bepaal in hoe ‘n mate die tegnologie van toepassing gaan wees al dan nie. Ek voel egter baie sterk dat alle moontlikhede bespreek en ondersoek moet word om weer die VOLLE funksionering van die geloofsgemeenskap aan die gang te kry. Ons het groot dankbaarheid vir die mense wat wel hulle deel doen en betrokke gebly het deur dik en dun. Ons bid julle dan ook God se seën en krag toe om te kan volhou daarmee.

Liefdegroete. Danie & Caroline Kotzé - 078 422 3495 - daniekotze8@gmail.com

Mobirise

26 - 29 AUGUSTUS : MANNE UITREIK NA VOSBURG… 

Ds Anton is passievol oor uitreik na ander gemeentes, ander gelowiges en ander gemeenskappe. En hy maak seker dat ons gemeente betrokke is. Die gemeenskap van Vosburg lê na aan sy hart, ‘n verhouding wat oor die laaste 12 jaar van krag tot krag gegaan het.

Mobirise

‘n Uitreik het twee hoof mikpunte: om die gemeenskap op ‘n tasbare manier te help en om ‘n geleentheid te bied vir die manne op die uitreik om geestelik te groei. Dit is ‘n leerskool, dit bied jou opnuut ‘n “geestelike ruggraat” om op voort te bou en tog ook aan vas te hou op jou pad vorentoe. Jy bou vriendskappe en verhoudings, met mekaar en met die Here, wat dieper loop as net bloot “vriende”. Jy staar jou eie tekortkominge in die oë en kerf vir jouself ‘n pad vorentoe uit met als in ag geneem. Jy “refresh” jou verhoudings, jou geloof en jou innerlike krag.

In 2017 het ons gemeente ‘n groot klimraam vir die kinders van die VGK Kerk gebou op hul grond. Als met skenkings uit Onrusrivier se gemeente. In 2018 was die nood vir ‘n Moederskamer en Skriba kantoor baie groot en het Ds Anton en die manne dit vermag. Weereens, met hulp en skenkings uit ons eie gemeente. In 2019 het hulle koppe (en hande) bymekaar gesit en groot verbeteringe aan die plaaslike bakkery gemaak. Die naweek is afgesluit met ‘n groot snoek en patat braai vir die boere. ‘n Geleentheid eie aan sy soort, met herinneringe vir ‘n leeftyd. 

Ongelukkig het 2020 baie beperkinge mee gebring en het die uitreik nie gebeur nie.

Die plan vir 2021 is om weereens te help met die bakkery. Agv die langdurige droogte, gaan dinge nie elke dag klopdisselboom by elke gesin nie en is die nood vir kos op die tafel groot. Die uitreikspan wil graag hierdie jaar uithelp met bestandele wat die bakkery kan gebruik vir daardie nood. Ongelukkig moet elke naweek ook tot ‘n einde kom en word die uitreik afgesluit met ‘n erediens waar Ds Anton nagmaal bedien. 

Mobirise
Mobirise
Mobirise
Mobirise

Dr Wilhelm Burger bied die aanddiens van 15 Augustus 2021 aan op RSG.
Klik op klankspeler hier onder

Audio Player
Mobirise

EKSTRA - VROUEDAG

"Jy is so mooi, so bekoorlik, liefste, met soveel wat geniet kan word"  - Hooglied 7:6 

Sy kyk vir my. En ek kyk vir haar.

Haar blou oë lyk effe vaal vandag. Ek sal haar moet leer van ‘n “tegniese glimlag”, dink ek by myself. Ek vertel altyd vir my kommunikasie-studente dat jy op ‘n gryserige dag jou tegniese glimlag as ‘n reddingsbooi moet inspan. Jy lig net die mondhoeke subtiel boontoe, so in ‘n amperes glimlag. Almal kry mos dan en wan ‘n dag wat jy met die verkeerde voet uit die bed opstaan. Soms rol jy bloot uit. Dan span jy jou tegniese glimlag in en jou gesig lyk vroliker, jou stem klink vriendeliker en jy is sommer aangenamer vir die res van die sameleweing wat andersins in jou suur gesig sou moes vaskyk. Die pluspunt is dat jy dan ook kort voor lank minder grys voel en jou tegniese glimlag moet dan plek maak vir ‘n opregte weergawe.

Toe onthou ek dat my tegniese truuk nie nou gaan werk nie. Want wie kan jou gemaakte glimlag agter jou masker sien?

So toe kyk ek weer vir haar. En ek sien sy kyk nogsteeds vir my.

Ek sien sy het ook dieselfde gesukkel as ek met plooie. Dis darem jammer dat ek nie as jongeling al meer van plooirome geweet het, of notisie geneem het nie. Maar die room hou darem ten minste die klompie wat daar saam skaar in toom. As hulle gaan begin kleintjies kry, gaan dit ‘n aardige storie wees.

As hulle gaan begin kleintjies kry, gaan dit ‘n aardige storie wees.

Ek kyk weer vir die vrou voor my. My oë rus op haar hande. Soos myne, smag hare ook na ‘n bietjie pamperlang. Maar dis haar vingerpunte wat my opval. Hulle is net so vellerig soos myne. Seker ook van in die water werk. Ek kry haar amper jammer, want in die winter is dit altyd so ‘n bietjie erger. Voeg nou daagliks ontsmettingsmiddel ook nog op daardie velle, en jy het ‘n krokkedillerige krisis. Ek weet presies hoe haar hande moet voel.

My oë volg haar proel tot by haar middellyf. Hmmm. Seker ook lekker grendelbrood gebak, soos ek. Die denim druk duidelik deeglik. Ek het dieselfde denim probleem as die vrou hier voor my.

Ek en sy maak weer oogkontak. Maar dié keer sien ek hoe ‘n vonkel in die blou oë begin vlam vat. Dalk onthou sy ook nou hoe elke berg wat sy al moes klim, ‘n monument kon word, hoe elke plooi kom nesskop het van baie lag en baie huil - die gawe en voorreg van emosies ervaar.

‘n Lewe wat gelééf word. Van die son se soene en die wind se warrel. Dat haar hande vellerig is van wasgoed was en huis skoonmaak, wat getuig van ‘n gesin om voor te sorg.

‘n Huis om in te woon, haar gesin se veilige hawe. Water en elektrisiteit. Skoene en klere. Dit alles midde - in ‘n pandemie waarop geen universiteitsgraad of ouerskapboek haar kon voorberei nie.

Die gulle middellyf vertel die verhaal van meer as genoeg kos om te eet. Oorvloedig. Geurig. Genotvol. Dalk vier sy ook goeie gesondheid na ‘n operasie en longontsteking die afgelope jaar. Of dalk is haar middel die baken van die wonder van geboorte skenk. Die wonderwerk van lewe wat haar liggaam tot uiterstes beproef het, maar sy heldhaftig kon trotseer. Want haar Maker het daardie moed, uithouvermoë en uitmuntenheid in haar wese ingeweef. En Hy het teruggestaan en gesê : “Dit is baie goed. Ons noem haar….vrou.”

 Sy kyk vir my. En ek kyk vir haar. Sy knipoog sowaar vir my. My oë volg die lyne van my profiel in die spieël. Gevul met bewondering, dankbaarheid en tevredenheid. Ek is volkome vrou.


Halrika Breytenbach

Mobirise
Mobirise

TUISVERSORGING- ONRUSRIVIER DIENSSENTRUM

Vanaf die onstaan van Onrusrivier Dienssentrum in 2013, was die tuisversorging van bejaardes een vd hooomponente van die dienste wat die dienssentrum bied. Nie net is verblyf en versorging in verswaktesorg- en sub-akutesorg instansies baie duur nie, maar dit neem ook die bejaarde weg van hul geliefdes en hul bekende omgewing, daarom is dit so belangrik om te weet dat daar ‘n alternaef vir hulle is, naamlik om versorging na hulle te bring, deur gebruik te maak van tuisversorgers.

Mobirise

Tuisversorging word gebied vir verswakte bejaardes, post- operaef en ook as palliatewe sorg vir terminaal siek persone. Onrusrivier Dienssentrum maak slegs van opgeleide tuisversorgers met goeie ondervinding gebruik. Alvorens ‘n versorger in diens geneem word, word daar met hom/haar ‘n persoonlike onderhoud gevoer, en referente word gekontak. Die tuisversorgers werk olv ‘n professionele verpleegkundige, wat elke klient weekliks besoek. Dit word gedoen nie net om probleme op te los nie, maar ook om toe te sien dat beide die klient en die versorger gelukkig is en om sodoende ‘n oopgesprek verhouding op te bou. Die verpleegkundige gee ook deurentyd opleiding soos nodig en raad vir elke unieke situasie. Sy is ook telefonies in verbinding met beide partye, indien hulle haar wil kontak as daar enige probleme sou ontstaan.
Wanneer iemand se omstandighede in so ‘n mate verander dat hulle die hulp van ‘n versorger sou be-nodig, kan die verpleegkundige gekontak word, sy maak dan ‘n afspraak om die klient te

ontmoet en ‘n evaluasie en behoeftebepaling te doen. 
Daar word dan saam met die bejaarde besluit watter tipe- en hoeveel versorging hulle benodig. Die volgende opsies is beskikbaar: versorging slegs in die oggend, of voldag versorging, of snags, of dag en nag versorging. Dit kan ook op ‘n daaglikse basis geskied, of slegs enkele dae van die week soos die diens benodig word. Wanneer al die partye ooreenkom, word ‘n kontrak met die klient en met die betrokke versoger wat in diens geneem word vir daardie klient, geteken. Die rekening vir dienste word maandeliks gelewer, dus hoef die bejaarde nie daagliks enige gelde te betaal aan die versorger nie. Hulle is ook self verantwoordelik vir hulle vervoer na en van die bejaarde se huis.
Om ‘n tuisversorger in jou huis aan te stel, is ‘n besluit wat ‘n groot inpak het, veral as daar nog meer as 1 persoon in die huishouding is. Dit is waar dat ‘n versorger in jou persoonlike ruimte inbeweeg, maar dit is miskien goed om betyds besluite hieroor te neem en met mekaar en met kinders te deel.  

Dus, wanneer die situsie sodanig verander en ‘n versorger wel benodig word, is dit nie ‘n nuwe en vreemde gedagte nie, maar ‘n besluit wat geneem is toe al die partye redeliker wys daaroor kon praat en besluit en nie in ‘n emosionele oomblik van nood nie. Ondervinding het ons geleer, dat selfs diegene wat die hardste teestribbel om ‘n versorger in te neem, mettertyd gewoond raak aan die persoon, die waarde besef van die hulp wat sy bied en uiteindelik baie lief word vir die versorger.
Deur 'n tuisversorgingsdiens te bied, poog Onrusrivier Dienssentrum om die nood van bejaardes te help verlig deur hul lewenskwaliteit te verbeter in hulle eie bekende omgewing. Asook om die probleme wat hulle en hulle families in die gesig staar, hetsy sies, emosioneel of geestelik te help oplos, deur vroeë identifikasie, korrekte assesering en hulpverlening. Indien enige iemand ‘n tuisversorger benodig, is hulle welkom om Sr Ronel Calitz van Onrusrivier Dienssentrum te kontak by
073 152 5623.

Mobirise

SELGROEP/KLEINGROEP/OMGEEGROEP/HUISKERK

Baie verskillende name vir min of meer dieselfde ding. Wat dit nie is nie, is ‘n vervanging van die weeklikse Sondae eredienste. Inteendeel dit is ‘n verlenging daarvan of ‘n manier/voertuig om dit wat ons saam as ‘n gemeente ontvang te gaan uitleef. 

Mobirise

Baie mense sien selgroepe / kleingroepe / omgeegroepe / huiskerke vanuit verskillende oogpunte. Alhoewel die terme baie naby aan mekaar is, gaan ek van nou af die term Kleingroepe gebruik. Met bogenoemde in ag geneem, sal ek graag ‘n kleingroep wil begin. Ons weet almal dat soveel verander het in die laaste 12 maande of so. Ons kon vir eers nie eers Sondae “kerk hou”, toe kon ons weer, met minder mense, toe weer meer, en toe weer minder, en toe weer glad nie. Een ding waarvan ons seker kan wees is dat nie een van ons weet hoe en WANNEER dit gaan verander. Ons weet ook dat “YouTube kerk” maar ‘n skamele troos bied dat ek nog steeds kan “kerk toe gaan”. Dit wil dan vir my lyk asof die bymekaarkom in kleiner groepe dalk ‘n al hoe meer belangrike rol gaan moet speel, binne die raamwerk van die kerk, as ooit tevore. Dit natuurlik gesê binne die raamwerk van die huidige Covid-19 regulasies. My gedagte is om ‘n kleingroep op die been te bring waar ons begin deur aanlyn MS Teams byeenkomste te hou (meer hieroor later). Aangesien ons nuut in die gemeente is , gaan dit natuurlik sy eie uitdagings bied omdat ons omtrent niemand in die gemeente ken nie. Op die ou einde is niks beter as om sies met mekaar te kan kuier, veral rondom ‘n ete of so iets. Vir nou gaan ons maar moet doen met wat ons het en kan. 
Julle sal ook opmerk dat ek glad nie die term Bybelstudiegroep gebruik het. Dit is met opset so gedoen. Volgens my, is ‘n Bybelstudiegroep ‘n

groep met die UITSLUITLIKE doel om bymekaar te kom om Bybelstudie te doen. Dit het op sig self ook ‘n baie belangrike doel en plek en ek probeer dit geensins wegpraat of minder belangrik laat wees. Bybelstudie vorm wel deel uit van ‘n Kleingroep byeenkoms. MAAR, dit is nie waar dit stop of die enigste funksie. ‘n Kleingroep is ‘n kleiner groepie mense wie mekaar leer ken en wie in ‘n veilige kring omgee vir en uitreik na mekaar toe. Die doel van ‘n Kleingroep kan in die volgende “verklaring” opgesom word: “ Die Here is hier! Hy is ons Vader wat ons met sy hele hart lieet en ons is sy kinders. Saam vorm ons ‘n geestelike familie wat die hele week liefde teenoor mekaar uitleef. Hier by ons samekoms word ons eenheid met Jesus Christus en met mekaar sigbaar. Ons doel is: Om Hom te loof en te eer; Om mekaar onselfsugg te dien; En om in gehoorsaamheid aan Hom sy beeld verder uit te dra, sodat ander Hom ook as Vader kan leer ken.” Indien jy dan sou belangstel om deel te word van ‘n Kleingroep, gaan ek vra dat jy vir my ‘n epos of ‘n WhatsApp boodskap stuur met jou kontakbesonderhede. Sien my kontakbesonderhede onderaan my skrywe. Ek sal dan vir jou ‘n skakel stuur na die MS Teams aanlyn bymekaarkom. Ek sal dan ook wil weet hoeveel mense in jou gesin die byeenkomste sal wil bywoon. Selfs al kom ons (vir eers) “virtueel” bymekaar sal dit goed wees om die groep ‘n Kleingroep te hou. Die ideaal is dat ‘n groep nie sommer groter word as 8 mense op die meeste met tussen 4 en 6 die ideaal.

Indien die groep te groot word, verloor mens die voorreg om genoeg geleentheid vir almal te gee om sinvol te kan inskakel by die byeenkomste. Daar is so baie wat ek nog sou wou kon sê oor Kleingroepe, maar ons kan daaroor gesels wanneer ons bymekaarkom. Een van die eerste reëlings wat getref moet word, is die wanneer. Ek wil voorstel dat ons reël om Dinsdae om 19:00 bymekaarkom, beginnende op Dinsdag 26 Julie 2021. Dit is nie vas nie en kan verander / onderhandel word sodra ons begin kommunikeer. Vir ons sal enige aand van die week werk. Woensdae is gewoonlik die sl erediens in die Kapel en ons sal nie graag met dit wil “bots” nie. MS Teams ‘n Mens het nie ‘n lisensie of spesiale program nodig om deel te neem aan ‘n MS Teams byeenkoms. Daar is wel ‘n doelgerigte program wat mens op jou rekenaar en/of selfoon kan installeer. Die besluit is joune. Al wat jy nodig sal hê is ‘n internet konneksie. Indien jy nie die program wil aaai, kan jy inskakel direk deur jou internet “browser”. Sodra jy die skakel kies wat ek sal stuur, sal hy jou direk na die vergader plek neem. Indien enige iemand onseker is hoe dit werk of gaan werk, is julle meer as welkom om ook met my te skakel. Ons kan selfs ‘n “toetslopie” doen voor die tyd. Ek sien uit daarna om met julle te skakel.

Liefdegroete. Danie & Caroline Kotzé
(078) 422-3495 daniekotze8@gmail.com
12 Ixiastraat Sandbaai.

Mobirise
DR Wilhelm Burger gesels op 16 Junie 2018 met RSG se Lizelle de Bruin 
Mobirise
Adres

Bergstraat 55,
Onrusrivier,
7201

Kontak

Epos: info@ngkonrusrivier.co.za
Telefoon: (028) 316-2116